Ons storie van hoop...

Ons storie is ñ storie van hoop... van die Bybelse: geloof, hoop & liefde... tot die aardse: "ons hoop vir die beste" & soos alle dinge, wat God ons op voorberei, kom dit ñ lang pad... van enkeling wees en smag na ñ maat, tot jong getroudes wees en smag na die wonder van ouers word. Die gesmag het gepaard gegaan met ñ lang gewag, baie bid... en huil.. en toetse en uiteindelik die besluit op IVF ("in vitro fertilisation") en die merkwaardige voorreg om, in detail, deel te wees van wanneer wetenskap ophou en God aanhou. So het ons die nuus gekry dat ons ñ tweeling gaan hê en die ekstra bederf, dat dit ñ seuntjie en ñ dogtertjie is... 
en na ñ heerlike, gesonde swangerskap... die ontnugtering van ñ "nood"-keiser a.g.v. pre-eklampsie... en dan die roete van prem-babas hê, wat elke meerling ouer weet is ñ moontlikheid, maar niemand jou op kan voorberei nie.

Na 40 dae in NICU is ons huis toe en die roetine (elke 3ure voed) was tegelykertyd vertroostend & "sieldodend" en so word hul groot en bereik die mylpaal van glimlag... tande kry  (nog iets waarop niemand jou kan voorberei!!!)... omrol... sit... kruip en opstaan. Wel, dìs hoe dit moes wees, maar by die omrol het ek begin onrustig voel... en toe Demar al lánkal sit & Zelé nog nie naastenby, het ek gevoel ons sal moet hulp en raad soek, alhoewel jy bly hoop op elkeen se uitspraak van: "sy sál sit... sommige babas vat net langer, jy sal sien..." so het ons reis begin: van Pediater, na Neuro-Fisioterapeut na Chiropraktisyn na Neuro-Arbeidsterapeut. ñ Reis van leer: hoe om haar te hanteer, hoe om jouself en jou opstandige emosies te hanteer, hoe verskillende mense in verskillende situasies die "onbekende" hanteer. Rede soek, self verwyt, vrede maak en dit weer verloor... nuwe woorde leer en veral leer bid... glo... vertrou en hoop. 

Want sien... Zelé het serebrale palsie ("cerebral palsy") en alhoewel sy pragtig (vir ons die pragtigste) en slim (vir ons die slimste) is, met die oplettendste geaardheid en ñ heerlike sin vir humor... loop sy nóg nie. Dis hier waar mens se idees en drome ook weer uitgedaag word, want wat is belangrik: dat sy onafhanklik is (met hulp van bv. ñ "walker "), of dat sy... sonder "walker ", met moeite loop? 

En dan besef jy weer die waarheid: dat jy énigiets vir jou kind(ers) sal doen: selfs jou drome oor-droom en aanpas, want... "geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!"
1 Kor. 13:13 (Afr 1983 vertaling)


Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...