Mý huldeblyk...

Ek het ñ vriendin gehad... haar naam was Linda Doyer. Sy was een van daardie kosbare, ouer vriendinne... wat mens enigiets kon vertel en vra en wie se lewenswysheid en haar manier van dit oordra, kosbaar en spesiaal was. Sy was snaaks, met ñ lag wat uitgebars het in vreugde. Sy was pret... en natuurlik ook so bietjie stout... maar goed-stout. Sy was gewardeer en gerespekteer, soos dit ñ dominee se vrou betaam maar glad nie "boring" of aansitterig nie. Daardie einste dominee het so maand gelede vir my gevra of ek kan help briewe tik, vir ñ spesiale gedenkboek... persoonlike briewe... hartsbriewe van haar aan haar hartsmense, wat sy in haar laaste dae hier op aarde geskryf het, vir hul om te lees wanneer sy hemel toe is. Sommige dadelik en sommiges later. En so het my onthou begin...

Ek het haar ontmoet as een van die geréélde gymlede, met haar kopdoekie en polly shorts oor haar ski-pants het sy heupswaaiend die gym ingestap. Nie soos Roger Rabbit se Jessica, heupswaaiend nie maar prettig en so bietjie sexy, as jy daarvoor gesoek het. Sy het gesels en om gegee in detail, vir elkeen wat saam haar kom sweet het. En as sy iemand se naam of storie so bietjie vergeet het, het sy so skelm met my kom gesels en gou weer onthou en dan trots gaan verder gesels of uitvra. Ek het haar gehelp met programme terwyl sy chemo gekry het, terwyl sy in remissie was en toe sy pille gedrink het, wat maar soos chemo was en aaklige newe-effekte gehad het soos seer (baie seer!) hande en voete! Sy het nie ophou oefen nie, nee sy het net vir ñ aangepasde program gevra en dit getrou gedoen. Sy het gehou van die mini-trampolien en het haar (onopsigtelike, sexy) heupswaai 'moves' graag daarop geoefen en vervolmaak en sy het gehou van strek. Ek het haar soms uit my kantoor dopgehou en gedink sy lyk nogal soos ñ ballerina, wanneer sy so oorstrek na haar kuit met haar lang arm, gerond in die lug. Dan het ek geweet... sy en Gerrie is gelúkkig getroud! Sy het ook gehou van die oefenbal... soms het sy ingekom en, soos een van die skoolkinders, gekyk of sy dit kan hop tot by die hoë gymdak. Sy het met mening, met uitgestrekte arms in die lug gespring en dan so hárd as wat sy kan die bal gehop, soos in ñ gorilla-haka, met gebuigde bene & lyf vooroor. Glad nie vroulik maar ook nie onvlyend. Aggresief lewenslustig!

Linda was saam met my oorstelp van vreugde toe ons na ñ jaar se wag uitvind ons is swanger (na haar brief aan Leon & hulle 9maande se wag, verstaan ek hoekom sy kon identifiseer). En sy was saam my empaties-hartseer toe dit opeindig in ñ miskraam, want sy self het verstaan van verlies. Sy het my vertrou met haar en Gerrie se reisjoernaal, om dit te tik en opgewonde laat toppies maak, gepas met die naam "Zero to Sexy", wat sy in die gym gesien het, toe hulle Mauritius toe gaan.

Ek onthou haar natuurlik as die besondere Aanbiddingsleier, maar ook hoe sy haarself by ñ Vrouekamp salf met olie, wat vir die doel neergesit is... sy het nie net ñ druppel gevat nie... sy het haar hande vól olie gemaak en aan haar kop en hals gesmeer... sy het dit in haar pragtige, kort grys hare gesmeer soos gel... en iets het vir my kom sê: "...die keer gaan Linda nie weer gesond word nie..." ek het die gedagte verban, maar soos sy sieker geword het, het ek dit oor en oor onthou...


Linda is hemel toe, die aand wat ek en Dewald in Upington oorgeslaap het,  oppad Kgalagadi toe. Dit was een van die wonderlikste kuier-aande saam my man en ons het oordadig gedoen, wat haar advies op ons trou video  (en al haar kinders se trou-briewe) was: ons was mekaar se béste pêlle! Die sms dat Linda "die hemel ingedans het", was net ñ oomblik ñ demper op die aand... want ek het, soos almal geweet, by Hom wat sy liefhet, is sy nou. Maar ek het ñ paar keer na haar voicemail gaan luister,  en dit selfs neergeskryf, sodat ek haar stem en toon nie moet vergeet nie... op die dag van haar begrafnis, was ek kort-kort aan haar herhinner en het ek deel van dié gevoel, wat haar lewe gevier het, toe ek die meeste duiwe óóit sien sirkel... en sirkel... en sirkel by een van die drinkplekke van die Kgalagadi (en ñ duif sirkel nie, dit vlieg wég). Dit was vir my gepas, om haar lewe te herdenk en vier met die simbool van God se Gees en teenwoordigheid en goedkeuring...


Toe ek by die huis kom, en die nuwe jaar begin, het Gerrie getrou  kom gym... alleen... nie net alleen maar eensaam en sielsmaat-verlore. Hy het soms in my kantoor kom sit en vra hoe dit gaan, dan het ons saam gehuil oor ons eie ding... en ek het besef: álles wat ek na verlang van Linda, was persoonlikheids aspekte van die Een by Wie sy nou was, en wat Hy in haar gehoorsaamheid en oorgawe aan Hom, laat deurspoel het. Haar fyn aanvoeling, haar omgee, haar bemoediging...

Daar is net één ding wat ek wens... ek wens dat sy vir my ook ñ brief geskryf het... ñ brief waarna ek kan terugverwys wanneer ek moedeloos is of niks werd voel of radeloos is... tog, in die tik van die briewe kon ek Jesus-woorde uithaal, wat wel vir my bedoel was... kon ek Jesus se stem van liefde & onvoorwaardelike aanvaarding vir my eien en vat. Kon ek raad kry vir wat NOU sukkel en gehoor moes word en kon ek weer besef dat God in beheer is.

Ek salueer vir Linda... ñ hele klompie jare na haar dood... maar ag, sy sou nie omgegee het nie, want sy weet... mens sukkel soms om te Carpé Diem!

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...