Ek hou nie van die winter nie...
...vir die voor die hand liggende redes maar ook vir vele ander...
So van hande gepraat. Dís een van die redes hoekom ek nie van die winter hou nie: want ek hou van kos maak... en as mens kos maak dan was jy baie jou hande... en as jy eers langmoue moet opstoot om te kan werk en dan as jy vergeet het jou langmoue moet vol kos maak voordat jy dit kan afspoel of sulke skouer-bewegings en stuiptrek-elmboog-rukkings daarmee saam om te probeer om die langmoue weg uit die kos of (vrek koue) water te hou en dan help jou ken, en later ook jou mond... dan raak dit een groot frustrasie en geveg!
En nog iets wat ek gereeld "afspoel" is my lyf... ek hou van bad. En in die winter is 'n warm bad ekstra lekker maar die uitklim is ekstra sleg! En die water word so vinnig koud?! En dan as jy uiteindelik die moed bymekaar geskraap het om uit te klim dan is alles koud: die vloer, die lug, die slaapklere én die bed, waarin jy so vinnig as moontlik wil klim! O genade! Hoe is dit moontlik dat die beddegoed sò koud kan wees?! En terwyl ons nou in die badkamer is: die toiletsitplek! Sjoe! Dit kan darem net so koud raak! Ek kan goed verstaan hoekom die oumense 'n gebreide toemakertjie vir die toiletsitplek gemaak het! Dis nie baie higiënies nie, veral as daar jong seuns in die huis is, maar dis darem baie meer boud-vriendelik wanneer jy vroeg in die more, uit die warm bed, 'n dringende draaitjie moet loop!
En dan gepraat van loop... mens kan nie in die winter net opstaan en kombuis toe loop nie. O nee, jy moet pantoffels aantrek! Anders vries jou voete af teen die tyd dat die koffie gemaak is en jy terug in die bed is. En jy moet jou japon aantrek... en daardie belt?! Regtig?! Hòé moet mens nou eintlik die pof-belt vasmaak dat dit toe bly? Gebruik enige iemand daardie ekstra lintjie binne-in, en help dit enigsins om dit toe te hou? Want ek doen nie! Ek het nie tyd vir lintjie vasmaak en dan belt vasmaak nie! Mens kan nie die ding knoop nie, dan gaan jy jou dood sukkel om dit los te kry, maar dis ook te "pof" en te kort om 'n strik mee te maak, so mens maak so halwe strik-knoop, wat net so halfpad werk ook...
.jpg)
Opmerkings
Plaas 'n opmerking