Ledigheid is die duiwel se oorkussing...
...dis wat die afrikaanse spreekwoord sê, maar ek het oor die afgelope paar weke besef wat eintlik die probleem is met selfone, en spesifiek ons tieners en hul selfone (...maar as die skoen jou pas...)
Die probleem is: daar is altyd iets om te doen! Wanneer jy jou oë oopmaak in die oggend is daar 'n foon met speletjies, apps, nuus en sosiale media waarmee jy onmiddellik kan besig raak. Wanneer jy badkamer toe gaan kan die selfoon saam gaan, wanneer jy gaan koffie maak... watookal jy doen, die selfoon sál jou besig hou!
Wanneer ek en my vriendinne gesels oor "die goeie ou dae" stem ons almal saam dat dit goed is vir 'n kind om verveeld te wees. Verveeld-wees dwing jou om kreatief te wees, dit dwing jou om om jou rond te kyk, om dinge op te let en om te kommunikeer, as daar mense om jou is. Dit laat jou asem skep en rustig raak. Jy kan kuier, jy kan omgee want daar is geen haas: niks wat jou jaag of aandag soek. Jy kan jou tyd vat om rondom jou te kyk en te hoor en te ruik en te voel. As jy uiteindelik besluit het waarmee jy gaan besig raak kan jy jou tyd vat. Ek dink aan al die kaartjies wat ek gemaak het en briewe wat ek geskryf het. Radio programme is geluister en opgeneem en deur die dag het ons gekuier en rondgeloop of rondgery met ons fietse. Soms was jul saam verveeld en dan het jul speletjies of stories uitgedink: konserte is opgetree en soms is daar in jou Pa & Ma se kas ingevaar om jul eie "fancy dress" te hou. Daar is nie voor die TV gelê as die video wat jy uitgeneem het, klaar gekyk is, of daar niks op was nie, òf die grootmense in die T.V. kamer wou kuier. Dan het jy kaart gespeel of Monopoly of sommer "donkerkamertjie"...
Wel, dan dink ek moet ons die altyd-besig-wees-toestelle maar mooi bestuur: vir onsself én ons kinders. Gee jouself en jou kind kans om wakker te word op naweke en vakansies en niks te hê om te doen... en deur die dag... en ook in die aand. Maar hou maar dop as die gegil en/of gegiggel uit 'n kamer kom, wat geen ligstreep maak onder die deur, of as daar 'n leë bottel gevra word vir die volgende speletjie, deur die groep tieners...

Opmerkings
Plaas 'n opmerking