Plasings

My musiekmurmererings...

Prent
Ek was laas jaar bevoorreg om genooi te word na 'n unieke vriendinne-kuier in 'n sirkel met kerse en liggies en wyn en 'n keurig-gepakde luukse boks van die heerlikste versnapperings: groentestokkies, neute, salami opgerol en olywe en hummus en mooie geknoopte pretzels. Maar wat die heel lekkerste van die kersfeeskuier was, was die musiek! Die gasvrou het vooruit gevra vir jou 5 gunsteling liedjies om 'n speellys te kan maak. Wat 'n wrede ding om te vra?! Net 5?! Wel, ek het gesukkel en gedink en gestuur en dan weer bygelas en nog gestuur. Sommiges het net kunstenaars se name gestuur, maar ek werk nie so nie... detail mense! Detail! En daarom het ek besluit om my eie speellys met my 48ste verjaarsdag saam te stel. Kom stap saam my deur my musiekmurmererings... Ek dink mens se vroegste musiek-onthou is as kind: die musiek wat jou ouers geluister het. Daardie jare was dit plate en kasette. My eerste musiekherinnering wat by my opkom is " Born in the USA" van...

Ek rou...

Prent
...elke dag... rou ek... Ons gaan Wildtuin toe en 'n pragtige langbeen dogter met lang, blonde hare kom in die badkamer ingestap... "hallo tannie"... en ek dink: dís hoe my meisiekind moes lyk... lang bene wat loop en hardloop en ballet dans en netbal speel. Maar nou is ons besig om te sukkel om die rolstoel in-en-uit 'n badkamer te kry, wat op die oog af rolstoel vriendelik is, totdat jy 'n rolstoel het en dit wil gebruik en besef dis glad nie prakties of vriendelik nie, veral nie as die rolstoelgebruiker 'n kind is nie. Ons loop in die winkels en 'n kleine, fyne babatjie waggel verby met 'n groot doek aan. Sy loop, sy hardloop selfs! Dís wat 11 jaar gelede moes begin gebeur het met ons dogtertjie-baba, maar dit het nogsteeds nie, en ek kry 'n jaloers-pyn in my binneste wat my verlam en verleë laat wegkyk. Dan sien ek die rolstoel voor my raak en dink hoe onregverdig dit is dat ek nie eers haar hand kan vashou nie, maar agter haar moet aanloop, om...

Die deurskynende-verdwyn-mens...

Prent
"Vanoggend het ek wakker geword met 'n vreemde gevoel, En ek was nie eintlik seker waarom nie. Maar dit het gevoel of ek verdwyn, So toe hardloop ek spieël toe om te gaan kyk. Toe sê ek: "...hier is ek, hier is ek, hier is ek! Maar hoekom voel ek soos 'n deurskynende mens?" Toe strompel ek terug na my kamer toe En staar na die son wat opkom. Toe hoor ek myself by die venster uitskree: "...hier is ek, hier is ek, hier is ek! Maar hoekom voel ek soos 'n deurskynende mens?" Die ligte het begin aangaan, en mense het begin skree: "Sal die mal ou asb. weer gaan slaap?!" En daar was ek: aan die lag by my venster, skielik het ek baie beter gevoel, want iemand het gehoor wat ek gesê het... Wel, dis nie iets groots, geen openbaring nie. Geen antwoord oor ons lewens hier. Maar ek weet, en kan een ding verseker sê: soms het ons almal nodig om te sê, "...hier is ek, hier is ek, hier is ek!" Wanneer die lewe ons laat voel asof ons deurskynend ...

Wat ons van ysbakkies geleer het...

Prent
(Vir Ruhan, op sy 43ste verjaarsdag) Toe ons jonk was het jy nie ys gekoop nie, jy het ook nie 'n ysmasjien besit nie. As jy ys wou hê moes jy dit uit 'n ysbakkie uit jou vrieskas uit kry. Mens het soms sulke "stainless steel" ysbakke gekry (was dit "stainless steel"? Dit was so 'n dowwe metaal, wat blêdy koud geword het), met "deviders" in... soms het dit so hefboompie gehad, wat jy kon afdruk om die ys makliker uit te kry, baie middeleeus. Of dis hoe ek dit onthou... Maar meeste van ons het sommer net gewone plastiek-ysbakkies gehad, wat jy so moes draai en kap om die ys uit te kry , en soms kap jy dit sommer stukkend! *Ysbakkies het ons geleer planne maak (en versigtig wees met koue goed.) En die grootste uitdaging was nie om die ys uit te kry nie, o nee! Die grootste uitdaging was om die ysbakkie vól te maak, en dan vol in die vrieskas te kry. Want die pad van die kraan na die vrieskas was baie lank en vol hindernisse, wat maak dat jy moet ...

Dertig jaar Matriekreünie

Prent
Dertig jaar!  Soms voel dit of dit in 'n oogwink verby gevlieg het. Ek onthou nog die anti-klimaks van die laaste keer by Hoërskool Carletonville (Callies) se hekke uitstap, na my laaste matriek vraestel. Sonder enige fanfare of ballonne... was dit nou dit?  Driehonderd en sestig maande!  Van leer en studeer van liefde soek, dit vind en in detail ervaar, verloor en weer vind. Van besig wees en vakansie hou van ongelukke en seer en vreugdes en lééf! Eenduisend vyf honderd en sestig weke! Dit klink so lank soos 'n dubbel wiskunde periode by Mnr. Broodryk kon voel, of daardie drie Rek.klasse, na mekaar, by Juf. van Eeden óp 'n Vrydag nà tweede pouse! Tien duisend nege honderd en vyftig dae!  Dis hoe lank ons nou al uit Matriek is! Dit voel soos die treë wat ons in Langstraat afgehardloop het, vir tannie Brecthie, wanneer ons moet fiks word vir atletiekseisoen. Of die letter-vir-letter spoedtoets tik, by juffrou Wheeler.  Negentien-drie-en-negentig...1993... Die jaa...

Niemandsland...

 "Good goes up, bad goes down"... dis die rympie wat jy leer wanneer jy 'n operasie kry en krukke jou beste maatjies word. Ek het dit wel as Biokinetikus geken, maar nooit gedink dit sal 'n persoonlike refrein raak nie.  'n Groot operasie is soos 'n baba wat gebore word, in terme van dae en weke aftel, soms voor, maar veral ná die operasie. Mens se lewe word op "pause" gesit en dis al hoe mens kan uitsien na wanneer die lewe weer "terugkeer na normaal".  Een week na die heupvervanging...  Twee weke na die heupvervanging...  Drie weke na die heupvervanging...  Die bakens op jou pad is Fisioterapie sessies- en/of oefeninge en die verandering daarvan. En as jy ék is doen jy dit getrou, tot op die rep., set en beweging, want jy weet #movementismedicine en jy kan voel hoeveel dit help en jy "losser", gemakliker en sterker word. Na 4 weke mag mens die een kruk los en begin bestuur as jy nie "onder die invloed van pynmedikasie is ni...

Les 2 van 2023

Prent
Eintlik is hierdie nie soseer 'n les, as 'n (ontstellende-hartseer) bevestiging, wat ek weer vandag in Ilanga Mall gekry het: mense voel 'n veer vir rolstoel gebruikers. Eerstens is albei die rolstoel parkeerareas naby die ingang gebruik, ek sien nie enige rolstoel plakkers op die voertuie nie, maar ons het ook nie een op ons s'n nie, so ek gee hul die voordeel van die twyfel. Gelukkig is ons almal  daar met Dewald se "trok", so die rolstoel hoef nie eers opgevou te word nie, dit word net in-en uitgelaai deur die Pa, vir wie nie die rolstoel of die insittende (tans) te swaar is nie. Nét in die Mall besef mêdem sy wil toilet toe gaan, en as die besef kom is dit altyd nogal dringend, soos seker met meeste rolstoelgebruikers die geval. Hier gaan ons: op met die hysbak en by die toilette gekom is daar geen indikasie waar die rolstoel toilet is nie... ek besluit toe maar op die "Family toilet". Die deur is toe, maar nie gesluit nie, en met die Mall-geraas...